Kom ons gesels vandag oor testamente
Baie testamente het in my lewe op my lessenaar beland. My ondervinding is dat daar weinig van hulle is wat korrek beplan en geskrywe is. ‘n Verkeerde testament kan na afsterwe nie gewysig word nie. Ek gaan van die probleme wat ons ondervind het met die bereddering van boedels en die uitvoering van die oorledene se wil en wense, hieronder bespreek.
- Testamente wat verouderd is kan verreikende gevolge hê. Byvoorbeeld waar bates wat nie meer bestaan nie, vererf word.
- Vererwing na ‘n eks vrou.
- Ons het al afgekom op selfopgestelde testamente waar menige persone onterf word ipv geërf het. Deur ’n “komma” op verkeerde plek op Sally se grafsteen te plaas, is sy na die hel ipv na die hemel gestuur.
“Hier lê my vrou Sally, in die hemel is sy, nie in die hel, dit weet ek wel.
Hier lê my vrou Sally, in die hemel is sy nie, in die hel, dit weet ek wel.”
Sulke foute word gereeld gemaak en veroorsaak baie trane.
Konstante hersiening van testamente is nodig, veral wanneer daar veranderinge in jou lewe plaasgevind het wat jou wense en vererwing beïnvloed.
Neem kennis dat familielede en die aan wie vererf word, nie as getuies kan teken nie. Jou testament sal as ongeldig verklaar word.
Dit bring my by die aanstelling van eksekuteurs.
Enige persoon kan in sy persoonlike hoedanigheid as eksekuteur aangestel word. Een van die kinders word as eksekuteur aangewys in Pa en Ma se testamente. Hy kan nie die werk van die eksekuteur doen nie en vra ‘n prokureursvriend van hom, wat nie normaalweg boedels beredder nie, om hom van hulp te wees.
Die vraag is: Waar laat jy jou tande trek? Doen jy dit self, by jou huisdokter of jou tandarts? Jy gaan na die ekspert wat dit elke dag doen vir die minste pyn en lyding. Stel self die ekspert aan en voorkom wrywing tussen kinders. Hulle vertrou nie mekaar nie, al sê jy ookal wat. Dit verskaf onmin tussen hulle.
Onder huidige wetgewing word tans bepaal dat die maksimum eksekuteurvergoeding wat gevra mag word, 3,5% van die bruto boedelwaarde, plus BTW tans, 15%, mag beloop.
Dit is belangrik dat jou boedel deur ‘n kundige persoon beplan word.
Boedels wat nie deur ‘n kundige persoon beplan is nie, kan baie probleme veroorsaak. Jy kan baie kostes spaar deur ‘n ekspert te gebruik wat vir jou boedelbelasting, eksekuteurskoste, en Kapitaalwins-belasting (KWB) met die boedelbeplanning, kan bepaal en dit dan vir jou opskrif stel.
Met ‘n beplanning en die skrywe van ‘n Pa se testament, het ek R1,6 miljoen se boedelbelasting vir die kinders gespaar. Daar sou aandele verkoop moes word om die boedelkostes te betaal. Die kinders kan nou die kostes wat deur ‘n korrekte beplanning ”gespaar” is, ontvang en nie die staat nie.
Met ‘n boedelbeplanning moet jy seker maak dat jy volledige en korrekte inligting aan die adviseur voorsien. Die uitlaat van inligting kan baie kostes onwetend veroorsaak by die afhandeling van boedels.
Wie mag/kan advies gee?
Boedelbeplanning en testamente: ‘n Prokureur of ouditeur mag ‘n fooi vra vir die opstel van ‘n testament. Daar is min mense wat werklik die vermoë en kennis het om ‘n ordentlike boedelbeplanning te doen en ‘n korrekte testament daarmee saam op te stel. Wanneer ‘n persoon boedels beredder, beskik hy oor die kennis om ‘n boedelbeplanning te doen en ‘n korrekte en uitvoerbare testament op te stel.
Finansiële advies: Slegs die persone wat oor die wetlike kwalifikasies beskik en by die FSCA geregistreer is, mag finansiële advies gee. Indien ‘n ongemagtigde persoon, al is hy ‘n prokureur, ‘n ouditeur of jou kinders finansiële advies gee en dit benadeel jou, kan jy om skadevergoeding aansoek doen wat hulle moet betaal.
‘n Kundige persoon moet in sy beplanning van die boedel asook die testament en moontlike stig van ‘n familietrust, ’n skriftelike aanbeveling maak, wat jou van die volgende moet voorsien:
- wat behels alle kostes: (eksekuteursfooie, boedelbelasting en KWB) by die eerssterwende asook by die langslewende se afsterwe.
- wat aantoon die kontant- tekort/oorskot by beide se afsterwe.
- wat die koste vir die beplanning, die opgestelde dokumentasie en afhandeling van die boedels sal wees.
Hierdie is sekerlik die belangrikste beplanning endokumentasie wat korrek vir jou gedoen en geteken moet word.
Kyk uit vir my volgende skrywe oor wat om waar te bewaar om prosesse makliker te maak vir jou familie wat agterbly na jou afsterwe.
Besoek ons webtuiste by www.wilratrust.co.za
Vriendelike groete
Willie Burger